motorpics





document : Allison Transmissions maak hul merk in “Oplaai en Aflewer”-mark


Allison Transmissions maak hul merk in “Oplaai en Aflewer”-mark
information supplied by: Toyota South Africa - Trucks 09 October 2008

226091 Die bekende vervaardiger van outomatiese transmissies, Allison, is besig om met spesiale toerusting vir ’n verskeidenheid vragmotors sy merk in die plaaslike mark vir oplaai en aflewer-operateurs (P&D) te maak. Een van sy grootste projekte tot dusver was om die Allison Model 3500-eenhede in die meeste vragmotors van die Clover-vloot, wat deur Eqstra FlexiFleet bestuur word, te monteer.

Toyota Vragmotors het een van Allison se outomatiese transmissies in ’n Hino 500-Reeks 15-257-vragmotor met ’n Elite Fibre-verkoelereenheid laat monteer om vir die volgende drie maande deur die FlexiFleet-span beproef te word. Die vragmotor sal by Clover se reuse-depot in City Deep, Johannesburg, waarvandaan 135 voertuie huidiglik bedryf word, gebruik word.

Die besluit om Allison se outomatiese transmissies vir die Clover-vloot te gebruik, was die geesteskind van John Loxton, besturende direkteur van FlexiFleet, en blyk ’n wenformule te wees aangesien koppelaarprobleme voorheen ’n groot oorsaak van onklaarrakings en staantyd in hierdie afleweringsbedryf wat deur stop en wegtrek gekenmerk word, was.

FlexiFleet se afleweringsdienste-bestuurder by City Deep, Sean Hepburn, het gesê al die vragmotors by sy depot het outomatiese transmissies, behalwe vier Toyota Dynas, wat vir stedelike aflewerings gebruik word waar die groter vragmotors nie kan inkom nie, sowel as drie Mercedes-Benz 6x4-voorhakers. Die vragmotors het almal ’n loonvragvermoë van 7 ton en het rompe wat almal presies ewe groot is.

Clover se City Deep-depot bedien Johannesburg en omgewing en die vloot vragmotors lewer daagliks tussen 600 en 850 ton produkte in ’n reeks wat uit meer as 500 verskillende produkte bestaan, af. Die vragmotors word van 13:00 op een dag tot 06:00 die volgende dag gelaai, en aflewerings word 24 uur per dag gedoen.

FlexiFleet, ’n lid van die Eqstral-groep, bestuur die Clover-vloot van 2004 af. FlexiFleet het destyds ’n vlekvryestaal-aanleg in Heilbron, waar Clover se hoofkantoor is, gekoop. Dié aanleg spesialiseer in die vervaardiging van vlekvryestaal-tenkwaens en het produksie met 600% verhoog sedert FlexiFleet die onderneming oorgeneem het, terwyl die vervaardigingsproses aansienlik uitgebrei is om ook GRP-tenkwaens (veselglasversterkte plastiek) vir Clover en ander klante te vervaardig.

Clover se geskiedenis strek terug tot 1898 met die vestiging van ’n botterfabriek in Weenen, Natal, en help om 30% van Suid-Afrika se melk af te haal en dit in 13 fabrieke te verwerk. Die maatskappy het 23 depots en sewe groot agente. Die landwye Clover-afleweringsvloot bestaan uit 560 vragmotors wat almal ingevolge instandhoudingskontrakte deur Imperial FlexiFleet bedryf word.

Wat die toenemende gebruik van Allison se outomatiese transmissies in vragmotors in Suid-Afrika betref, het Tony Henri, die maatskappy se nasionale verkoopsbestuurder vir Suid-Afrika, gesê nog ’n suksesvolle projek was die gebruik van Allison Model 2500-eenhede wat in 50 Hino 13-234-sekuriteitsafleweringsvoertuie vir SBV gemonteer is. Dieselfde tranmissie doen ook diens in Dyna 8-145’s wat vir die aflewering van brandstof en drinkwater vir vliegtuie by die OR Tambo-lughawe gebruik word, sowel as in ’n soortgelyke Dyna wat omgeskep is in ’n 25-sitplek-bus wat by die Saldanhabaai-hawe gebruik word.

Henri het gesê die aanvanklike montering van die Allison-transmissies was baie duur, maar daarna het klante die voordeel van die minste moontlike staantyd weens ratkasprobleme geniet. Hy het bygevoeg dat die montering van sy maatskappy se produkte aan voertuie wat in die oplaai- en afleweringsbedryf gebruik word, eers twee jaar gelede begin het, maar die vordering in hierdie mark is uiters bemoedigend.

 1 images
226091
226091
       



Tags | Industry News | Allison Transmissions make inroads into "Pick up and Deliver" market | 2007 Toyota Hino 15-257 Freighter | Toyota South Africa - Trucks |