Boxer-Dieselenjin gee die pas aan
information supplied by: Subaru South Africa
16 October 2010
BOXER-DIESELENJIN GEE DIE PAS AAN
- 110 kW @ 3 600 r/min
- 350 Nm @ 1 800 r/min
- Standaard DPF (dieselroetfilter)
- Brandstofverbruik van ’n skrale 6,5ℓ/100 km
- CO2-uitlate van net 168 g/km
- Voldoen aan Euro4-vereistes
Subaru het die afgelope 45 jaar daaraan bestee om die horisontaal-teenoorstaande viersilinder-Boxer-enjin te vervolmaak, wat bykans twee dekades in die Wêreld-tydrenkampioenskap in turbo-aangejaagde weergawes insluit, met nie minder nie as drie jaers- en drie vervaardigerskampioenskappe op hul kerfstok. Nou het Subaru ook die turbodiesel-eweknie vervolmaak.
Die Boxer-uitleg is uitgeknip daarvoor om die enjinvibrasies wat ’n onwelkome eienskap van kompressieontstekingenjins is, natuurlik teen te werk. Die beweging van die horisontaal-teenoorstaande suiers werk eenstemmig saam om die sekondêre harmoniese vibrasie wat ongemak veroorsaak, teen te werk. Subaru maak gebruik van enjinmonterings wat met vloeistof gevul is as die laaste verdediging om van enige vibrasies wat moontlik nog kan bestaan, ontslae te raak.
Die uitstekende balans van die horisontaal-teenoorstaande enjin sorg ook vir lae draaitraagheid en die minimum wrywing, wat ook help om die versnellerreaksie te bespoedig. Die inherente stewige ontwerp van die krukkas en die kort krukas help ook om vibrasie te verminder en het Subaru se ingenieurs in staat gestel om ’n enjinblok van aluminium te gebruik. Die gevolg is ’n enjin wat die ligste in sy klas is.
Die EE20-turbodiesel het in vergelyking met Subaru se EJ20 2.0-liter-petrolenjin ’n 11 mm langer slag terwyl die boor met 6mm verklein is wat die enjin se algehele lengte tot net 353 mm beperk. Die enjin se gelyke afmetings (die boor en slag is al twee 86 mm) het die verplasingsinhoud op 1 998cc te staan gebring, met ’n drukverhouding van 16.3 :1.
’n Aantal ontwerpkenmerke stel die enjin in staat om die bykomende kragte wat op ’n kompressieontstekingenjin van toepassing is, die hoof te bied. Dit behels bykomende verkoelingskanale tussen die silinderruimtes, en suierstange met asimmetriese punte – albei is meer kompak wat die draaibeweging van die krukas/suierstang-samestel betref, maar die skuinsgemonteerde laers verminder ook wrywing.
Wat die dubbelbonokas-silinderkoppe betref, is die klepgrootte en inlaatpoortwarreling-eienskappe vervolmaak om by die ontbrandingseienskappe van ’n dieselenjin te pas terwyl die gietstukke ook uniek is om die hoë ontbrandingsdruk te weerstaan.
Die brandstofpomp stuur diesel na die hoëdrukbuisinspuitingstelsel teen ’n druk van 180 MPa, terwyl die inspuiters spesiaal kompak is ten einde die enjinwydte ten spyte van ’n langer slag te beperk.
Die turbo-aanjaer gebruik ’n wisselende tuit om die beste verrigting deur ’n wye toerestrek te verseker, terwyl die turboaanjaer self onder die enjin en reg langs die dieselroetfilter vir die beste werking gemonteer is. Die lug-tot-lug-tussenverkoeler is so na aan die inlaatspruitstuk as moontlik gemonteer, wat die temperatuur van die inlaatlug verlaag sodra dit in die enjin ingesuig word en bestendige verrigting ondanks die buitetemperatuur verseker. Die uitlaatstelsel is ook verfyn om die beste werking te verseker.
Die enjin se indrukwekkende omgewingsvriendelike verrigting word deur die standaard dieselroetfiler (DPF) aangevul – ’n toestel wat die dieselroet met die gebruik van koolstoffilters vasvang. Die DPF wat in die Boxer Diesel gebruik word, kan die versamelde roet periodiek onder sekere rytoestande verbrand. Die voordeel van ’n aktiewe roetfilter soos hierdie is dat die toestel homself kan vernuwe en sodoende vir die lewensduur van die voertuig sal hou, maar dit is belangrik om net 50ppm diesel te gebruik aangesien ‘vuil’ brandstof die vernuwingsproses sal benadeel.
Die Boxer Diesel-enjin gebruik ook ’n stelsel waar die uitlaatgas gehersirkuleer word en afgekoelde uitlaatgas terug na die ontbrandingskamer stuur om enige oorblywende stifstofoksied-uitlate (NOx) te verbrand.
Die nuwe 2.0-liter-Subaru Boxer-turbodiesel-kragbron is behoorlik op internasionale en plaaslike vlak getoets en dit lyk asof die nuwe enjin dieselfde ikoniese status as sy petrolstalmaats sal aanteken. Dié enjin sal mettertyd in alle Subaru-modelle beskikbaar wees, met die Forester wat van die middel van 2011 af aan die beurt sal kom.
Dit sal Subaru Suider-Afrika in staat stel om produkte te bied wat uitsonderlike lae CO
2-uitlate het, wat die feit dat Subaru se fabrieke ook aan die voorpunt staan om die omgewingsimpak van sy voertuie tot die minimum te beperk, beklemtoon. Subaru van Indiana Automotive (SIA) herwin byvoorbeeld 99 persent van sy afval en lewer geen bydrae tot die VSA se afvalhope nie. Sy winsgewende herwinningsprosesse is ’n skitterende voorbeeld van groen vervaardiging, en baie van die tegnieke wat hier ingelui en vervolmaak is, is na Subaru se Japannese modelle uitgevoer.
Wat help dit in elk geval om ’n ‘groen’ motor te ry as sy vervaardigingsproses alles behalwe skoon is?
einde