Sessterdiens op pad na Bloemfontein
information supplied by: Subaru South Africa
24 June 2010
Sessterdiens op pad na Bloemfontein
Subaru Suider-Afrika (SSA) het volle eienaarskap van dié fabrikaat se agentskapshandelaar in Bloemfontein geneem en sodoende steun aan Subaru-eienaars in die hartjie van die land verseker. Dit is ook geskiedkundig deurdat dit die heel eerste handelaarskap is wat ten volle aan SSA behoort.
Morne Viviers, SSA se voormalige nasionale tegniese bestuurder, sal aan die stuur van sake staan. Hy is met sy ondervinding van tien jaar by Subaru (en ’n bykomende vyf jaar in die motorbedryf) in ’n skitterende posisie op die onderneming te bestuur. Hy is deur die SSA-bestuur aangesê om ’n middelpunt van uitstaande diens daar te stel wat naverkopediens in die algemeen sowel as steun regdeur die Vrystaat en Noord-Kaap – en selfs Lesotho – betref.
"Jy kry nie ’n plek wat juis meer sentraal as Bloemfontein is nie, en dit was nog altyd vir ons belangrik om ’n sterk teenwoordigheid daar te hê,” het Grant Bowring, SSA se handelsnaam- en bemarkingsbestuurder, gesê. "Die behoefte vir beter diens bestaan al lank in die Vrystaat en noudat ons volle eienaarskap van Subuaru Bloemfontein geneem het, kan ons die gehalte van steun waarop eienaars aanspraak maak en verdien, waarborg.”
Viviers het vir hom ’n korttermyn-doelwit gestel om versiening, herstelwerk, en onderdelebeskikbaarheid aansienlik te verbeter. Hy glo die omgewing hou ook groot belofte vir groter nuwemotorverkope in.
"Subaru-eienaars wat op pad na KwaZulu-Natal en die Kaap is kan gerus wees dat Subaru-steun nooit verder as ’n uur se ry is nie,” het Viviers gesê. “Maar met die Drakensberg op ons drumpel en al die leefstyl-bedrywighede in die bergagtige omgewing glo ek hierdie handelaarskap hou ook groot belofte vir beter verkope van die Forester en die Outback in.
“Wanneer Subaru-eienaars ’n draai by Zastronstraat 45 in Bloemfontein kom maak, sal hulle deur ’n klein, maar hegte spannetjie wat baie ervaring in Subaru-geledere het, verwelkom word. Daarbenewens sien ons ook as handelaarskap in volle besit van SSA baie daarna uit om goeie voorraad en steun te hê met die vermoë om vinnig te kan groei,” het Viviers afgesluit.