document : SA Geboude Toyota Hilux Bakkie Skitter By 2012-Goodwood-Spoedfees

google earth  | 

SA Geboude Toyota Hilux Bakkie Skitter By 2012-Goodwood-Spoedfees
information supplied by: Toyota South Africa - DJ 28 June 2012

SA GEBOUDE TOYOTA HILUX BAKKIE SKITTER BY 2012-GOODWOOD-SPOEDFEES
 
Toyota se sukses in internasionale veldtydren-deelname word vandeesweek by die 2012-Goodwood Festival of Speed in Engeland verteenwoordig – deur niks minder nie as die Suid-Afrikaans ontwerpte V8-Hilux-dubbelkajuit wat in vanjaar se Dakar-veldtydren in Suid-Amerika deelgeneem het.
 
Die drie Toyotas wat in Januarie aan die wêreld se langste en taaiste motorren deelgeneem het, het ’n merkwaardige derde, vyfde en tiende plek in hul heel eerste poging in die hande van onderskeidelik Giniel de Villiers van Stellenbosch, die Argentyn Lucio Alvarez en Duncan Vos van Johannesburg beklink.
 
De Villiers, ’n voormalige Dakar-wenner, is ook genooi om die Hilux V8 se veldry-vermoë in die beroemde bos-sneltrajek by hierdie vooraanstaande byeenkoms ten toon te stel. Dit is – sover as wat vasgestel kon word – ook die eerste keer dat ’n huidige renmotor wat geheel en al in Suid-Afrika ontwerp en gebou is, by dié byeenkoms te sien sal wees.
 
Toyota sal sy eertydse roem en huidige suksesse by die ikoniese Goodwood-byeenkoms met ’n skitterende teenwoordigheid van baanmotors, tydrenmotors en padmotors vier. Die byeenkoms val ook saam met die amptelike Britse bekendstelling van die nuwe Toyota GT86-sportkoepee, wat in verskillende weergawes – van gewone padweergawes tot baanren- en konsep-weergawes – in utstallings en in die Goodwood-heuwelren in aksie gesien kan word.
 
Die Festival of Speed vier die eerste verskyning van Toyota Racing se TS030-hibriedsportmotor in die VK ná die motor se internasionale rendebuut vroeër vandeesmaand in die Le Mans-uithouren oor 24 uur. Gazoo Racing sal in pas met die uithouren-tema ook sy Lexus LFA en Toyota 86, wat al twee klaswenners in vanjaar se Nürburgring-uithouren oor 24 uur was, ten toon stel.
 
Gazoo Racing onthul ook sy Sports FR-konsepmodel, ’n “tweeling-aanjaer”-weergawe van die GT86 wat ’n super-aanjaer sowel as ’n turbo-aanjaer vir die plat viersilinder-enjin inspan. Dié verbeterings jaag die kraglewering op tot 196 kW. Dié kragtoename word aangevul deur ’n hersiene veerstelsel, groter remme en ’n omvattende sport-romppakket.
Die jongste GRMN-superaangejaagde iQ, wat baie kleiner is maar ewe skerp op verrigting fokus, sal ook die heuwelren-uitdaging aandurf. Die iQ van 82kW, wat dit ’n ware blitsbuksie maak, is aan die begin van die jaar in die Tokyo Auto-saal onthul en sal in die komende Japannese somer in baie beperkte getalle te koop aangebied word.
 
Frank Wrathall keer in sy 2012-Dynojet Racing Toyota Avensis-toermotor terug. Dié jong jaer, wie se deelname vanjaar perfek inval by die fees se tema Jong Kanonne – gebore om te wen! is deur aanhangers van die Britse Toermotorkampioenskap as nuwelingjaer van die jaar aangewys en het vanjaar al ’n podiumposisie in wat maar sy tweede BTCC-seisoen is, losgejaag.
 
Toyota se amptelike deelname aan die heuwelren word afgerond deur nog ’n GT86, wat met die volledige TRD-stilerings- en verrigtingspakket pronk, en ’n padweergawe van die Lexus LFA-supermotor. Rod Millen, wat weer in sy buitengewone Pike’s Peak-Tacoma by die fees sal wees, sal vir ’n tikkie bykomende opwinding sorg. Millen is ’n voormalige rekordhouer in die bekende Colorado-bergren.
 
Die tydren-verhoog by die Goodwood-fees sal die beste motors uit Toyota se motorsportgeskiedenis huisves. Dié versameling vuurwaens sluit in al die Celica-wêreldkampioenskapsmodelle, waaronder die ongelooflike Groep B-TA64 King of Africa wat tussen 1984 en 1986 skoonskip in die Safari- en Ivoorkus-tydrenne gemaak het. Die Celica ST185 en ST 205 GT-Four-motors sluit hulle aan by die jongste fabrieksingeskrewe Toyota, die WRC Corolla, en Midgley Motorsport se skaars TE27 Corolla Levin uit die jare 70.
 
Toyota bied ook baie ander aantrekkings by sy feesuitstalling, waar die GT86 die middelpunt van belangstelling sal wees. Die GT86 sal langs die 2000GT, Toyota se oorspronklike 1960’s-sportkoepee waaruit die GT86 se ontwerpers hul aansporing gekry het, uitgestal word.  Die uitstalling sal ook die motorsportsukses van die Corolla GT (AE86) van die 1980’s vier met Midgley Motorsports se replika van die motor waarmee Chris Hodgetts twee agtereenvolgende BTCC-kampioenskappe in 1986 en 1987 gewen het.
 
Einde
 
Nog inligting oor Toyota se teenwoordigheid by die Goodwood Festival of Speed is beskikbaar by www.media.toyota.co.uk
Attachments
SA Geboude Toyota Hilux Bakkie Skitter By 2012-Goodwood-Spoedfees.doc (32kB)

SA Geboude Toyota Hilux Bakkie Skitter By 2012-Goodwood-Spoedfees on Google Earth.kml (3kB)

Complete Release: SA Geboude Toyota Hilux Bakkie Skitter By 2012-Goodwood-Spoedfees.zip (2,255kB)


 7 images
333588
333588
333587
333587
333586
333586
333585
333585
333584
333584
333583
333583
321892
321892



Tags | Zipped Releases | Toyota South Africa - DJ |