document : TOYOTA VIER 30 JAAR AS SUID-AFRIKA SE MARKLEIER


TOYOTA VIER 30 JAAR AS SUID-AFRIKA SE MARKLEIER
information supplied by: Toyota South Africa Product 11 January 2010

Toyota Suid-Afrika het 2009 afgesluit met ‘n markaandeel van 23% vir die jaar. Die maatskappy se markaandeel het in Maart 2009 ‘n hoogtepunt van 26,3% bereik – die hoogste markpenetrasie in die afgelope twee jaar – en Toyota het dit opgevolg met ‘n markaandeel van 25,9% in Desember. In 2009 is altesame 396 230 voertuie in Suid-Afrika verkoop, waarvan Toyota se aandeel 90 701 eenhede beloop het.

“Gedurende 2009 het Suid-Afrika die volle inpak van die globale finansiële krisis ervaar en voertuigverkope het skerp van 533 387 eenhede in 2008 tot 395 230 in 2009 gedaal – ‘n afname van 25,9%,” sê Johan van Zyl, President en Uitvoerende Hoof van Toyota SA. “Die laaste keer dat die Suid-Afrikaanse motorbedryf so ‘n vlak beleef het, was in 2003, toe 381 456 voertuie van die hand gesit is.

“In die begin van die vierde kwartaal van 2009 het ons nog geskat dat die verkope vir die jaar deur die 400 000-kerf sou breek. Daardie voorspelling is byna-byna bewaarheid en ons glo dat 400 000 die ware potensiaal van die mark vir die jaar was. Dit is egter in die wiele gery deur die verwringing in die rapportering van verkope wat ons tipies in Desember en Januarie ervaar.

“Wat 2010 betref, voorsien ons die potensiaal vir stadige groei van hierdie relatief lae basis af in die loop van die jaar. Ons kan ‘n verbetering in verkope van ten minste 5% verwag as ons die meevaller wat gebied word deur die opwinding wat met die Sokker-Wêreldbeker gepaard gaan, ten volle benut. Ons voorspelling is dat 415 000 voertuie in 2010 in Suid-Afrika verkoop sal word.

“Hoewel Suid-Afrika beslis die impak van die globale resessie gevoel het, het die verstandige fiskale bestuur van vorige jare ‘n mate van ‘n kussing gebied, wat tot gevolg gehad het dat ons beter daaraan toe was as ‘n aantal meer ontwikkelde lande. Terwyl dit moontlik die impak op plaaslike verkope verminder het, kon dit die motorbedryf nie beskerm teen die skerp afname in uitvoerverkope nie – die gevolg van ‘n ineenstorting in die globale vraag na voertuie.

“Aggressiewe ekonomiese steunprogramme in hierdie lande, insluitende verskillende ‘kontant-vir-skedonk’-inisiatiewe, het ‘n mate van steun verskaf. Dit, tesame met die eerste tekens van ekonomiese en finansiële herstel in die ontwikkelde lande, het in die vierde kwartaal welkome verligting gebring vir ons uitvoermark. Daar was ‘n betekenisvolle toename in uitvoerverkope in Oktober, toe die gemiddelde maandelikse lewering van uitvoereenhede met 50% toegeneem het. Dit het in November verder verbeter, maar die afname wat ons tot einde September ervaar het, het uitvoerverkope vir die jaar met 38% laat afneem tot die 174 952 voertuie wat in die loop van 2009 uitgevoer is.

“In Desember het die verkope van medium, swaar en ekstraswaar handelsvoertuie die momentum wat vir die eerste keer in September merkbaar geword het, gehandhaaf. Dit is bemoedigend, aangesien dit die hoër vlak van bedrywigheid in die handels- en die konstruksiebedryf weerspieël wat in die loop van 2010 ‘n positiewe uitwerking op vertrouensvlakke sal hê.”

Deur die hele loop van 2009 was die Hilux die ster in Toyota se markleier-produkreeks. Die legendariese Hilux het die jaar op ‘n hoë noot afgesluit as die topverkoper-voertuig in Suid-Afrika. Die vraag na hierdie gewilde eentonbakkie het in Desember gelei tot ‘n afset van 2 933 eenhede – aansienlik meer as die totale ligte handelsvoertuigverkope van Toyota se naaste mededinger in die LHV-mark.

In die afdeling vir passasiersmotors was die Corolla die topverkoper met ‘n afset van 1 178 eenhede, met die Fortuner na die Corolla die gewildste passasiersmotor vir die maand en verreweg Suid-Afrika se gewildste sportnutsvoertuig. Altesame 1 110 Fortuners is in Desember van die hand gesit.

Die verkoopsukses van hierdie Toyota-voertuie, wat gegrond is op ‘n soliede reputasie vir betroubaarheid, duursaamheid, algehele waarde vir geld en lae bedryfskoste, het daartoe gelei dat Toyota al die afgelope 30 jaar agtereenvolgens die markleier in Suid-Afrikaanse voertuigverkope is.

Hierdie jarelange markleierskapsposisie is nog meer merkwaardig omdat dit bereik is in ‘n sektor van die ekonomie wat bekend is vir sy sikliese aard. Die motorbedryf word makliker as ander bedrywe beïnvloed deur onbestendigheid in die maatskaplike en besigheidsomgewing, maar Toyota het die toets van die tyd deurstaan in ‘n snel veranderende Suid-Afrika, nie net as ‘n plaaslike verskaffer van voertuie nie, maar ook as ‘n voorste uitvoerder.

Die welslae van Toyota in die afgelope 30 jaar is gegrond op ‘n kombinasie van vooruitbeplanning en die strenge toepassing van ‘n reeks interne en eksterne strategieë. Toyota se markfilosofie is geformuleer om te verseker dat ‘n wye produkreeks doeltreffende vervoeroplossings bied, tesame met die hoogste vlakke van klantsteun en -tevredenheid.

Sedert die stigting van Toyota Suid-Afrika in 1961 deur wyle dr. Albert Wessels, ‘n visioenêre nyweraar, het die maatskappy gegroei tot die voorste vervaardiger en bemarker van voertuie op die vasteland van Afrika. Die verkope van Toyota-voertuie in Suid-Afrika alleen sedert die stigting van die maatskappy beloop meer as 3,27 miljoen eenhede. As ‘n volfiliaal van die Toyota-Motorkorporasie sedert 2002 is Toyota Suid-Afrika ten volle geïntegreer in Toyota se globale verskaffingsnetwerk met ‘n jaarlikse produksievermoë van meer as 200 000 voertuie, waarvan ongeveer die helfte vir uitvoermarkte bestem is.

Toyota het reg van die begin af die benadering van Suid-Afrikaanse motorryers van motors en vervaardigers verander deur aan te toon dat daar groter doeltreffendheid en beter klantsteunvlakke beskikbaar was in ‘n mark wat tot in daardie stadium oorheers is deur groot Amerikaanse tipe voertuie met hoofsaaklik gesentraliseerde verspreidings- en diensnetwerke. Toyota het sy doeltreffende vervoeroplossings vir alle Suid-Afrikaners beskikbaar gestel, veral deur rugsteun in plattelandse gemeenskappe wat voorheen ongekend was. Die maatskappy het vandag steeds die grootste en mees stabiele handelaarsnetwerk in die land.

Toyota se welslae is gegrond op sy reputasie as ‘n verskaffer van ligte handelsvoertuie – waarvan die oorspronklike 1,5 ton-Stout ‘n onmiddellike sukses was. Die Stout is opgevolg deur die kleiner Tiara- en die Corona-bakkie, albei afgelei van passasiersvoertuie, en die 2 ton-Dyna. Die groot deurbraak het in 1969 gekom met die bekendstelling van die Hilux, presies die regte voertuig vir Suid-Afrika in daardie jare. Sedertdien het Toyota op die sukses van hierdie befaamde eentonbakkie voortgebou.

Toyota het die passasiersmark vir die eerste keer in 1975 betree met die Corolla. Weer eens was dit ‘n Toyota-produk wat net op die regte tyd sy opwagting op die Suid-Afrikaanse mark gemaak het. Suid-Afrika, soos die meeste ander lande in die Weste, is erg geraak deur ‘n globale brandstofkrisis wat die internasionale motorbedryf deur die hele Sewentiger-dekade sou beïnvloed. In ‘n mark wat desperaat kleiner motors gesoek het, was Toyota die eerste plaaslike maatskappy wat ‘n kompakte, ekonomiese en gerieflike vervoeroplossing kon bied.

Dit het die Corolla net vyf jaar gekos om sy stempel op die plaaslike passasiersmotormark af te druk, en saam met die Hilux as die ander kernproduk in Toyota SA se produkreeks, het dit daartoe gelei dat Toyota in 1980 die markleiersposisie oorgeneem het. Ondanks die aggressiewe aanslae van mededingers en ‘n fundamentele verandering in die struktuur van die plaaslike motorbedryf in die afgelope 10 jaar het Toyota sy posisie as die onbetwiste markleier in Suid-Afrika gehandhaaf.

“Toyota het ‘n trotse rekord dat hy die regte produk, vervaardig tot die hoogste gehaltestandaarde en gesteun deur ‘n stabiele handelaarsnetwerk, aanbied,” sê Johan van Zyl. “Dit is die fundamentele eienskappe van die positiewe eienaarskapsondervinding waarvoor ons handelsmerk bekend is, en hierdie eienskappe sal fundamenteel bly tot die Toyota-eienaarskapsondervinding in die jare wat kom.

“Toyota het oor die jare ‘n geweldig lojale klantebasis opgebou. Ek wil hierdie geleentheid gebruik om ons klante te bedank vir hul ondersteuning en hulle verseker dat ons steeds daar sal wees om te verseker dat hulle die beste moontlike eienaarskapsondervinding kan geniet – soos ‘n mens kan verwag van die markleier – en dat ons steeds die heel jongste motortegnologie sal benut tot voordeel van alle Suid-Afrikaanse motorryers.”

ends



Tags | Industry News | Toyota South Africa Product |