document : Veldkuns is net vir Voortrekkers!


Veldkuns is net vir Voortrekkers!
information supplied by: Peugeot South Africa 06 November 2009

Sommige mense beweer dat die lewe te kort is om met kitskoffie tevrede wees. Ander meen die lewe is te kort om winkelsigare te rook (dis nou as ’n mens moet rook!).

Party mense glo die lewe is te kort om ’n gewone whiskey te drink, en sweer dat enkelmoutsoorte die enigste ware Jakob is.

Maar Peugeot sê die lewe is te kort om nie stylvol te reis nie – selfs al moet ’n mens dan die pad as ’n groep aanpak.

Juis daarom het Peugeot Motors Suid-Afrika pas die Tepee bekendsgestel – ’n volledig toegeruste agtsitplek-bussie wat veral op die hotel- en toeristebedryf gemik is, maar wat ook aansienlik byval sal vind by groter gesinne wat ’n behoefte het aan ruimte, gerief en veiligheid.

Die Tepee se onderstel is grotendeels dieselfde as dié van die hoog aangeskrewe Expert-paneelwareeks, wat beteken dat duursaamheid ook onder die nuweling se sleutelkenmerke tel. Juis daarom skrik die Tepee nie om dag na dag met ’n vol vrag bagasie en passasiers die langpad aan te durf nie.

Met sy kopdraai-ontwerp, dinamiese kenmerke wat sterk aan dié van ’n gewone motor herinner, en ’n buitengewoon ruim en gerieflike kajuit wat maklik en vinnig aangepas kan word om tussen twee en agt insittendes te huisves, bied die Tepee ’n geheel nuwe reisbenadering.

Die lugdinamiese vooraansig word deur die swart plastiekafwerking van die buitespieëls , die buffer en die skermstroke onderskei, wat op ‘n slim kombinasie van praktiese en estetiese kenmerke dui. Dit beklemtoon ook dat die nuweling vir ’n verskeidenheid rolle geskik is.

Die voorste buffer speel ’n integrale rol in die Peugeot se voorkoms, terwyl
die strukture wat daardeur verberg word, met die oog op maklike herstel ontwerp is.

Die Tepee se HDI-kragbron weerspieël Peugeot se leierskap op die gebied van turbodiesel-enjins, en is besonder geskik vir gebruik in hierdie voertuig.

Dié spesifieke tweeliter-weergawe spog met regstreekse dieselinspuiting, en lewer maksimumkrag van 88 kW by 4 000 r/min. Die gepaardgaande wringkragpiek kom op 300 Nm by net 2 000 r/min te staan.

Die hoë wringkragsyfer by betreklik lae toere is volmaak geskik vir die vervoer van swaar vragte by lae enjinsnelhede. Die voertuig se dinamiese vermoëns word verder onderskraag deur die pas van die jongste ML6C-sesgangratkas.

Die ratkas se gladde skakelaksie en goed gerangskikte ratverhoudings sorg dat die Tepee swaar vragte met gemak baasraak, maar ook op die oop pad indrukwekkende kruissnelhede kan handhaaf. Dit is ’n onoortreflike kombinasie.

Kenmerke soos ’n tweeledige inspuitproses dra by tot die dieselenjin se Euro IV-uitlaatgasstatus, wat daarom net 198 gram CO2 per kilometer vrystel. Dit beteken verder dat die gepaardgaande brandstofverbruik in die gekombineerde siklus op ’n indrukwekkende 7,5 liter/100 km te staan kom. Op die oop pad kan dit selfs tot so laag as 6,5 liter/100 km daal.

Die brandstoftenk van 80 liter sorg vir ’n indrukwekkende reikafstand en minder tydmors by die brandstofpompe. Die enjin se skoon verbranding beteken verder dat die enjinolie net elke 30 000 km gewissel hoef te word. Die snelheidsensitiewe hidrouliese kragstuur dra ook tot die Tepee se suinige brandstof-aptyt by.

Wat die veringstelsel betref, word die Tepee voor met MacPherson-veerstutte toegerus, terwyl ’n wringstaafas met kronkelvere agter diens doen.

Om hoë vlakke van gerief vir al drie rye insittendes te verseker, sonder om die beheerbaarheid van die voertuig te ondermyn, is nie altyd maklik in die geval van ’n groot voertuig soos hierdie nie.

Die veerspanning en demperverstellings is egter noukeurig aangepas om ’n goeie kompromis te bereik wat ook ’n breë spektrum gebruikspatrone in ag neem.

Die kajuit is deur die Italiaanse ontwerphuis Pininfarina geskep en plaas die gerief van die bestuurder hoog op die prioriteitslys. Kenmerke soos ’n sitplek met hoogte- en rugsteunverstelling, en ’n stuurkolom wat vir hoogte en reikafstand verstel kan word, sien verder om na die gerief en gemak van die bestuurder.

Al die deure sluit outomaties sodra die voertuig begin beweeg, terwyl togsnelheidsbeheer met die druk van ’n knoppie geaktiveer kan word, wat die werklas van die bestuurder op die oop pad kan verminder. Boonop baat die voorste passasier by ’n eie, afsonderlike sitplek wat nes dié van die bestuurder met ’n afvou-armrus toegerus is.

Die passasiers agter kan self die kajuit-temperatuur beheer deur van die afsonderlike lugversorgerkontroles gebruik te maak. Daar is ses luguitlate om die warm of koel lug gelykmatig te versprei.

Skuifruite sien om na die varslugbehoeftes van die middelste ry passasiers, terwyl insittendes agter oor klein oopvouruite beskik. Die gevolg is ’n binneruim wat altyd oop en vars vorkom, en daarom tot die algehele ritgenot bydra.

Toegang tot die tweede en derde rye sitplekke word vergemaklik deur die skuifdeure aan weerskante van die voertuig, terwyl die rugleuning van die middelste sitbank 60:40 verdeel is om toegang tot die agterste sitbank van albei kante nog makliker te maak.

Die Tepee is ’n passasiervoertuig uit die boonste rakke, maar omdat passasiers wat reis gewoonlik met tasse opdaag, maak die Tepee ook daarvoor ruimskoots voorsiening.

Die vragruim het ’n inhoud van 761 liter wanneer dit tot by vensterhoogte volgelaai word. As die hele ruimte tot by die dak volgepak word, behels die vragvolume ’n tamaaie 1 195 liter – en dit sonder dat dit nodig is om ’n enkele sitplek te verwyder.

Buiten die dinamiese vermoëns van ’n onderstel wat nie maklik van stryk gebring word nie, vind die Tepee ook baat by die sterk klem wat Peugeot op passasier-veiligheid plaas.

Die enjinruim is byvoorbeeld met ’n boonste en ’n onderste botsstruktuur toegerus wat die energie van ’n botsing gelykmatig versprei, ongeag die soort ongeluk waarby die voertuig betrokke is, en ook keer dat kragbron die voorkant van die kajuit binnedring,

Die voorste deure is met sluitpenne toegerus om seker te maak dat hulle in die deurholtes bly. Dit sorg saam met die versterkingstawe in die deure vir beter beskerming in die geval van ’n sybotsing.

’n Agterste botsstaaf van aluminium met frommelkassies voer die energie van ’n botsing na die vragruim, sodat die passasierkajuit onbeskadig bly.

Die Tepee-weergawe wat in Suid-Afrika verkoop word, spog met lugsakke vir die bestuurder en die voorste passasier, terwyl die skyfremme met ’n ABS-sluitweerstelsel en noodrembystand toegerus is.

Die belange van kinderpassasiers word ook op die hart gedra: Isofix-kindersitplekhegpunte is in die middelste sitplekry aangebring, en die passasierlugsak kan ook afgeskakel word.

Trouens, die Tepee beskik oor vlakke van gerief en verfyning wat gewoonlik net van passasiermotors verwag word. Dit word deur die gladde werking van die DW10-turbodieselenjin onderstreep.

In die geval van voertuie soos bussies en paneelwaens is een van die grooste bronne van geraas die vloer, en daarom is die onderstel van die Tepee spesiaal behandel om geraas te beheer.

Dit beteken dat die musiek van die radio of die CD-speler vir almal duidelik hoorbaar sal wees.

As deel van Peugeot Motors SA se uitgebreide voertuigreeks sal die nuwe Tepee ’n belangrike rol speel om die Franse maak aan nuwe marksegmente voor te stel.

En omdat die passasierbussiemark in 2010 besonder aktief behoort te wees, sal dié Leeu volmaak geplaas wees om in dié groeiende vraag na aantreklike, gerieflike en veilige bussies te voldoen.

 5 images
264763
264763
264762
264762
264761
264761
264760
264760
264759
264759



Tags | Peugeot South Africa | Model Announcements |