document : Nuwe Suzuki Alto - ’n Dinamiese nuweling


Nuwe Suzuki Alto - ’n Dinamiese nuweling
information supplied by: Suzuki Auto South Africa 18 August 2009

Skaars ’n jaar nadat Suzuki Auto Suid-Afrika die plaaslike motormark betree het, stel die dinamiese Japanse fabrikaat die opwindende nuwe Alto bekend – ’n pasangee-motor in die A-segment wat regstaan om die algemene opvatting oor klein stadsmotors geheel en al te verander.

Die Alto trek voordeel uit Suzuki se vermaarde kleinmotorgeskiedenis, en verteenwoordig ’n ongeëwenaarde kombinasie van uitnemendheid wat sy ontwerp, verpakking, veiligheid, brandstofdoeltreffendheid en lae uitlaatgasvlakke betref.

Hierdie kenmerke is aan verbasend sportiewe en meesleurende dinamiese gedrag gekoppel, asook aan hoë vlakke van gerief – en natuurlik aan uitsonderlike bekostigbaarheid en waarde.

“As die jongste lid van Suzuki se strategiese wêreldmotorreeks, stem die Alto volmaak ooreen met die behoeftes van die hedendaagse motorryer,” sê Kazuyuki Yamashita, besturende direkteur van Suzuki Auto SA.

“Die Alto bied ’n bestuurservaring wat nie net ekonomies en omgewingsvriendelik is nie, maar ook op dinamiese vlak besonder bevredig. Daarbenewens tel ’n lys voorste kenmerke en buitengewone waarde ook in die Alto se guns. Die motor verteenwoordig daarom ’n opwindende en belangrike toevoeging tot ons groeiende produkportefeulje in SA.

“Die Alto sal sonder twyfel onder begroting- en omgewingsbewuste motoriste byval vind, asook onder jong, kieskeurige stadbewoners wat ’n kopdraai-voorkoms, gebruiksvriendelike praktiese kenmerke en bestuursbetrokkenheid vereis,” voeg hy by.

Die Alto is die gevolg van ’n uitgebreide Japanse en Europese marknavorsing-, ontwerp- en ontwikkelingsprogram.

Die program het veral ag geslaan op die skep van ’n stylgerigte, moderne kompakmotor wat volmaak aan die smaak en verwagtinge van veeleisende Europese kopers voldoen. Dié aspekte is eweneens ook op die uiters mededingende, Eurosentries-gerigte SA mark van toepassing.

Die gevolg is ’n onmiskenbaar sportiewe vyfdeur-bakvorm wat sprekend van die energieke stadslewe is, en nogtans met besonder kompakte afmetings spog: die Alto is skaars 3,5 meter lank.

Terselfdertyd is die kompakte Suzuki ook gesofistikeerd en elegant, en spog met ’n indrukwekkende sleursyfer, wat algehele brandstofdoeltreffendheid bevoordeel.

Twee weergawes van die fietse Alto word plaaslik beskikbaar gestel. Die GL is die intreevlakmodel, wat perfek geplaas is om aan die behoeftes van die pryssensitiewe marksektor te voldoen.

Die GLS is nog meer volledig toegerus, en gemik op kieskeurige kopers wat selfs in dié segment nie bereid is om te kort te skiet wat standaardtoerusting betref nie.

Albei weergawes word deur ’n uiters doeltreffende driesilinder-aluminiumenjin van 1,0 liter aangedryf. Die kragbron spog met meerpunt-brandstofinspuiting en vier kleppe per silinder, en voldoen aan die Euro 3-uitlaatgasvereistes.

Hoewel die enjin in Europese weergawes van die Alto aan die jongste Euro 5-standaard voldoen, is die Euro 3-kragbron doelbewus gekies omdat dit meer geskik is vir gebruik met die plaaslik beskikbare brandstof.

Daarbenewens is die enjin ook meer versoenbaar met die hoë vlakke bo seespieël aan die Rand, wat beteken dat dit deur die grootste getal Suid-Afrikaanse bestuurders verkies sal word.

Die kragbron sorg vir lekker ratse verrigting in die stad, maar laat ook lang afstande op die oop pad krimp. Die driesilinder se kragleweringsvermoë en algehele werkverrigting is boonop verder verbeter deur die ratkas se eindaandrywing met ’n korter verhouding toe te rus.

Hoewel die enjin ekonomies en omgewingsvriendelik is, beloop sy maksimum-kragsyfer 50 kW by 6 000 r/min, terwyl die wringkragpiek van 87 Nm by 4 500 r/min behaal word. Die motortjie het ’n onverwags ratse persoonlikheid vir dié sektor, en weeg maar 895 kg.

Dit is genoeg om die Alto in net 16,0 sekondes van 0 tot 100 km/h te versnel, terwyl die nuweling ’n topsnelheid van 145 km/h kan bereik.

Van baie groter belang is die feit dat die Alto se brandstofverbruik in die gekombineerde siklus op net 5,7 liter/100 km te staan kom, met ’n uiters mededingende CO2-uitlaatgasvlak van 133 g/km.

Nes ’n mens van Suzuki sou verwag, speel waarde ook ’n onteenseglike rol in die Alto-verhaal, en dié tendens word in beide die GL en die GLS-weergawes van die Alto voortgesit.

Ondanks sy sakpas-status bied die GL-model ’n indrukwekkende lys standaardkenmerke. Dit sluit elektriese kragstuur in, wat die Alto se ratsheid in standsverkeer onderskraag. Lugversorging met ’n stuifmeelfilter, en twee lugsakke voor, tel ook onder die GL se belangrikste kenmerke.

Dan is daar ook ’n geïntegreerde immobiliseerder, voorsitplekke met voorspanners en lasbeperkers, twee ISOFIX-monteerpunte vir kindersitplekke, ’n brandstofvuldeksel wat van binne oopgemaak kan word, en ’n 12V-hulpkragpunt.

Daar is ook ’n van agter beligte digitale syferhorlosie, tweespoed-ruitveërs met ’n intervalfunksie, ’n ruitveër en wasstelsel vir die agterruit, en ’n groot verskeidenheid bêreruimtes voor en agter. ’n Volgrootte noodwiel is standaard.

In die geval van die GL-model word ’n dakgemonteerde lugdraad voorsien sodat dit maklik is om later ’n CD-instemmer te laat installeer.

Die GLS-model lyk deftiger, danksy sy 14-duim allooivellings en 155/65 R15-bande. Dié bande is spesifiek ontwerp ter wille van laer brandstofverbruik, sonder om hul indrukwekkende klouvermoë prys te gee.

Onder die GLS se bykomende onderskeidende kenmerke tel kleurbypassende deurhandvatsels en kantspieëls, misligte voor, en ’n afstandbeheerde sentrale sluitstelsel.

Binne bied die GLS nog kenmerke soos ’n driespeek-stuurwiel met kantelverstelling, ’n toereteller, elektriese ruitverstelling voor, ’n klankstelsel met ses aparte luidsprekers, en ’n CD instemmer wat ook MP3-klankleêrs kan terugspeel.,

Daarbenewens kan die luikrugdeur van binne oopgemaak word, en spog die agterste sitbank met ’n rugleuning wat 50:50 verdeel is, terwyl ’n deksel vir die bagasieruim voorsien word.

Onder die Alto GLS se lys veiligheidstoerusting tel elemente soos ABS-sluitweerremme met elektroniese remkragverspreiding en noodremhulp, wat vir optimale noodremverrigting sorg.

“Die Alto versinnebeeld Suzuki se kleinmotorvernuf, wat oor vele dekades verfyn is, en wat regstreeks tot die skep van dié bekostigbare, doeltreffende, veilige en aantreklike nuweling aanleiding gegee het,” het Yamashita verder gesê.

“Die motortjie is pret om te bestuur, en pret om te besit. Trouens, die Alto is ’n uitnemende stadjakker wat al die kernwaardes van Suzuki se ‘Way of Life!’-leuse uitbeeld.”

Die kleinhandelsprys van die Alto GL en GLS-modelle beloop R104 900 en R119 900 onderskeidelik, en sluit ’n waarborg van drie jaar/100 000 km in.

 8 images
256282
256282
256211
256211
256224
256224
256232
256232
256250
256250
256239
256239
256206
256206
256256
256256



Tags | The 2009 Suzuki Alto | 2009 Suzuki Auto Alto GLS | 2009 Suzuki Auto Alto GL | Suzuki Auto South Africa | Model Announcements |