document : Vos steeds voor in Produksievoertuigkategorie van Absa-reeks


Vos steeds voor in Produksievoertuigkategorie van Absa-reeks
information supplied by: Cross Country Commission (Media) 30 July 2008

Die huidige kampioen, Duncan Vos, se heldhaftige vyfde plek tydens die onlangse Sun City 400, het beteken dat die Sasol-Nissan Navara-fabrieksjaer sy voorloperposisie in die algehele en Klas SP-kampioenskappe van die Absa-Veldrenreeks behou het.

Na ‘n katastrofiese voorren Vrydag toe die dryfas gebreek het, het Vos en Ralph Pitchford die Sun City 400 in die 52ste plek aangepak. Hulle het 30 posisies tydens die eerste van twee sirkelroetes waaruit die ren bestaan het opgemaak en het uiteindelik in ‘n swaarverdiende vyfde plek geëindig.

Dié resultaat het Vos agt punte voor die voormalige kampioen, Neil Woolridge in die fabrieks-Ford Racing Ranger op die algehele punteleer geplaas. Met Pitchford wat twee byeenkomste vanjaar as gevolg van oorsese verpligtinge gemis het, is Kenny Skjöldhammer, wat langs Woolridge sit, die voorste navigator.

Wat die jaers betref, het Hannes Grobler, wat die Sun City 400 gewen het, in die derde plek inbeweeg en is hy voor die Castrol-Toyota Hilux-ster, Mark Cronje en Chris Visser in die privaat-Castrol-Toyota Hilux. Juan Möhr, wat langs Grobler sit, is tweede van die navigators en word gevolg deur Pitchford, Chris Birkin (Cronje) en Jape Badenhorst (Visser).

Die eerste drie plekke in die Klas SP-kampioenskap is dieselfde in beide die jaers- as die navigatorskategorie. Vos het ‘n voorsprong van ses punte bo Woolridge in die jaersstryd met Skjöldhammer nege punte voor Möhr in die navigatorskampioeskap met Pitchford ‘n verdere 14 punte agter.

‘n Tweede plek by Sun City het die broers, Henri en Maurice Zermatten in die Ryobi-Nissan Hardbody, tot bo-aan die Klas D-puntestand geneem. Hulle het by Coetzee Labuscagne/Johan Gerber (Raysonics-Nissan Hardbody) oorgeneem wat nie in die Pilanesberg kon klaarmaak nie.

Die Zermattens is nou agt punte voor Labuscagne/Gerber. Chris du Plooy Junior en Henk van Vuuren in die RFS-Toyota Hilux is derde en ‘n verdere nege punte agter nadat hulle nie die Sun City 400 kon voltooi nie.

Jannie Visser en Joks le Roux (Team Barberspan-Toyota Hilux) het ‘n tweede plek by Sun City aangeteken ten spyte van ‘n 15 minute-straftyd omrede hulle die voorren laat begin het. Hulle het ‘n gaping van 20 punte in Klas E oopgemaak. ‘n Tweede sege vir die beginner, Dewald van Breda (Potch Plastics-Toyota Hilux) het hom tot die tweede plek in die jaerskampioenskap geneem waar hy nou voor die huidige kampioen, Jack Peckham in die Ford Racing Ranger is.

Die Ford was vroeë Pilanesberg-slagoffers, maar Lucio Santoro, wat langs Peckham sit, is tweede in die navigatorstryd. Hy is voor Johan du Toit wat Van Breda se derde navigator dié seisoen is en wat hom tydens die laaste twee byeenkomste bygestaan het.

 4 images
217076
217076
216117
216117
216084
216084
216021
216021
 



Tags | 2008 Sun City 400 | Motorsport | Cross Country Commission (Media) |