document : Droombegin vir Nissan-Fabriekspan


Droombegin vir Nissan-Fabriekspan
information supplied by: Cross Country Commission (Media) 04 March 2008

Vir Nissan, die huidige kampioene, het die Nissan-handelaars 400, die openingsronde van die Absa-Veldrenkampioenskap wat in Darling plaasgevind het, ‘n droombegin gehad deurdat hulle die eerste en tweede plekke aangeteken het.

Die huidige Suid-Afrikaanse jaerskampioen, Duncan Vos en Ralph Pitchford in die fabrieks-Nissan Navara, het die seisoen perfek begin deur hul spanmaats, Hannes Grobler en sy nuwe navigator, Juan Möhr, te klop om met die algehele en Klas SP-louere weg te stap.

Vos en Pitchford het 34 sekondes voor die veteraan, Grobler, en Möhr klaargemaak toe dié span hul Navara tydens die laaste gedeelte van die ren moes spaar nadat hulle ‘n sloot aan die begin van die tweede van die byeenkoms se twee sirkelroetes getref het.

Dieselfde sloot het Nissan ‘n amper versekerde skoon lopie gekos. Die Noorweër, Ivar Tollefsen en die Brit, Quin Evans, was derde in nóg ‘n fabrieks-Navara toe hulle die sloot getref het en hulle moes uiteindelik die handdoek as gevolg van veringstelselprobleme ingooi.

“Dit was die perfekte begin vir ons,” het Vos gesê. “Die voertuig was perfek en toe ons eers verby Hannes en Juan is, moes ons net ons koppe bymekaar hou.

“Dit was ‘n goeie, maar strawwe roete en indien die res van die seisoen op dié trant voortgaan, sal ons meer as gelukkig wees.”

Die derde plek het uiteindelik aan die voormalige Suid-Afrikaanse kampioene, Neil Woolridge en Kenny Skjöldhammer in die fabrieks-Ford Racing Ranger behoort.

Hulle het voor Chris Visser en Japie Badenhorst (Castrol-Toyota Hilux) klaargemaak met voorlopige resultate wat Mark Cronje en Chris Birkin in die fabrieks-Castrol-Toyota Hilux in die vyfde plek gehad het.

Die Toyota-fabriekspan is later van die resultate gediskwalifiseer omrede hulle van die roete afgewyk het.

Die diskwalifisering van die Toyota-span het die veldrenlegende, Alfie Cox, en Hennie ter Stege in die Motorite-SP tot die vyfde plek laat klim met die paar wat in die Produksievoertuigkategorie deelneem nadat hulle die Spesiale Voertuigkampioenskap in 2006 gewen het.

Vos en Pitchford het die voortou geneem toe Grobler en Möhr tyd verloor het toe hulle die Navara in ‘n haarnaalddraai laat doodtrek het. Hulle kon nie die voertuig aan die gang kry nie en is toe deur hul ondervinding in die sloot gekniehalter.

Woolridge en Skjöldhammer het tyd verloor toe hulle gestop het om hulp aan die Spesiale Voertuigspanne, Evan Hutchison/Achim Bergmann en Naeem Mossajee/Rayhaan Bodhanya, wat in ‘n groot ongeluk betrokke was, te verleen. Na dié voorval het hulle ‘n probleemvrye ren gehad. Visser/Badenhorst het ook geen probleme tydens die hoofren gehad nie, maar wel tydens Vrydag se voorren wat die wegspringvolgorde bepaal het.

Kobus van Tonder en Riaan Guelpa in die Unifreight-Ford Ranger het ook ‘n bestendige ren beleef en so ook Harold en Tiaan Coen in die Land Rover wat onderskeidelik sesde en sewende in die SP-Klas geklassifiseer is. Die Coen- pa- en seun-kombinasie het heelwat tyd verloor toe hulle ‘n string deelnemers wat in dik sand vasgeval het, te hulp gesnel het.

Hoë-profiel slagoffers het Bevan Bertholdt/Robin Houghton in die tweede fabrieks-Castrol-Toyota Hilux ingesluit wat meganiese probleme ondervind het asook Hugo en Jaap de Bruyn (Micaren Exel-handelaars-Toyota Hilux) wat gediskwalifiseer is omrede hulle verkeerd gery het en beheerpunte gemis het.

Die Klas D-louere het aan Coetzee Labuscagne en Johan Gerber in die Raysonics-Nissan Hardbody behoort. Dié paar het in die russeisoen aandag aan hul fiksgheid gegee en hul enigste probleem was om die voertuig deur die laaste 100 kilometer te kry met die span wat oor hoë enjintemperature bekommerd was.

Die stryd was halfpad vir Labuscagne en Gerber gewonne nadat Ramon Bezuidenhout en Stefan Lock in ‘n Toyota Hilux skielik geen remme gehad het nie en in ‘n boom vasgery het. Dit het die verkoeler vernietig en die Delmas-gebaseerde span verplig om toeskouers te word.

Die Klas E-oorwinning het aan die ervare Span Barperspan-Toyota Hilux-paar van Jannie Visser en Joks le Roux, die huidige navigatorskampioen, gegaan. Hulle het ‘n “perfekte” lopie gerapporteer en was voor Thomas Rundle en Brian Roberts in die Barden Tyre Services-Nissan Hardbody tuis.

Die huidge jaerskampioen, Jack Peckham, en Lucio Santoro in die fabrieks-Ford Racing Ranger, moes met die derde plek tevrede wees nadat hulle heelwat probleme ondervind het. Hulle het ‘n halfas gebreek ne 20 minute by die aangewese dienspunt verloor terwyl herstelwerk gedoen is.

 8 images
204026
204026
203978
203978
203877
203877
203813
203813
203786
203786
203785
203785
203765
203765
203699
203699



Tags | 2008 Nissan Dealer 400 | Cross Country Commission (Media) | Motorsport |