document : Produksievoertuigkategorie is ‘n oorlogsone


Produksievoertuigkategorie is ‘n oorlogsone
information supplied by: Cross Country Commission (Media) 15 February 2008

Die Produksievoertuigkategorie gaan in ‘n oorlogsone verander wanneer die Absa-Veldrenkampioenskap op 29 Februarie en 1 Maart met die Nissan-handelaars 400 in die Wes-Kaap afskop.

Die primêre SP Klas gaan ook nie vir sissies wees nie. Ongelooflike groei oor die afgelope twee seisoene het beteken dat die SP Klas tot 15 inskrywings gegroei het met vier vervaardigers wat aan die openingsronde sal deelneem. Die aanhoudende kampioene, Nissan, saam met Ford en Toyota word deur die enkele Land Rover-inskrywing aangevul met die groep privaatspanne wat nou langs die fabriekspanne deelneem.

Nissan, wat vir hul agtste agtereenvolgende kampioenskap mik, sal weer eens as die gunstelinge aantree. Maar die fabrieks-Toyota- en Ford-spanne het laas seisoen genoeg skietgoed bymekaar gemaak om aan te verseker dat Nissan vanjaar ‘n ernstige stryd op hul hande gaan hê.

Daar is bekende gesigte in die Nissan Navara-fabriekspan met Juan Möhr wat as navigator vir die veteraan, Hannes Grobler, oorneem en die enigste nuwe gesig is. Die jaerskampioen, Duncan Vos, span weer kragte met Ralph Pitchford saam met die Noorweër, Ivar Tollefsen en die Brit, Quin Evans, wat die derde fabrieksinskrywing sal wees.

Kabellose versnelling sal ‘n nuwe innovering van Nissan wees. Die res van die span sal op hul betroubaarheid en professionalisme staat maak

Toyota se hoop sal hoofsaaklik op die Castrol-Toyota Hilux-fabriekspanne, Mark Cronje/Chris Birkin en Bevan Berthold/Robin Houghton, rus. Daar sal ook soliede ondersteuning van Chris Visser/Japie Badenhorst in nóg ‘n Castrol-Toyota en Hugo en Jaap de Bruyn in die Micaren Exel-handelaars-Toyota Hilux kom.

Visser/Badenhorst en die De Bruyns het laas jaar se fabrieksvoertuie geërf en hul voertuig het weer na George en Sharon Barkhuizen (Ruwacon-Toyota Hilux) en Jaco Swanepoel/Keith Solomon in die IDM Cement-inskrywings gegaan. Albei spanne maak ‘n groot sprong van Klas E.

Nadat hulle laas seisoen twee seges naelskraap gemis het, het Cronje en Birkin ‘n punt om te bewys. Bertholdt en Houghton is omtrent in dieselfde bootjie en daar bestaan geen twyfel daaroor dat die Toyotas oor dieselfde pas as die Navara-inskrywings beskik nie.

Ford se span lyk ook bekend – met een uitsondering. Die voormalige Mark Ferguson-Ford Ranger sal nou in die Motorite-kleure wees en wel in die hande van die veldrenlegende, Alfie Cox, en Hennie ter Stege.

Hulle sluit by die fabrieksvoertuie van die veterane, die voormalige kampioene Neil Woolridge en Kenny Skjöldhammer aan asook by Mark Ferguson/Craig West in nóg ‘n voormalige fabrieksvoertuig, die Unifreight-Ford Ranger wat weer eens in die hande van Kobus van Tonder en Riaan Guelpa sal wees.

Die Fords mag dalk nie oor die spoed beskik nie, maar Woolridge/Skjöldhammer en Cox/Ter Stege het al hul wenstyl bewys en is uiters ervare. Dit gaan ‘n strawwe kombinasie wees om te klop.
Die enigste Land Rover is die eks-Cliff Barker-voertuig wat deur Rob Green Racing herbou is en in die hande van Harold en Tiaan Coen sal wees. Die BMW-enjin maak die Land Rover baie vinnig en dit kan die ander gunstelingvoertuie ‘n angstige oomblik of twee laat beleef.

Klas D sal ‘n stryd tussen Toyota en Nissan wees met die twee groepe wat gelykop vertoon. Die huidige jaerskampioen, Cliff Weichelt, het heelwat ondervinding, maar sal ‘n nuwe navigator, Jimmy Goch, in die N1 4x4-Toyota Hilux D4D hê.

Laas jaar se beste beginners, Ramon Bezuidenhout en Stefan Lock, sal ook in Toyota Hilux-kleure wees. Met ‘n nuwe 3.4 liter-enjin in die Hilux behoort hulle selfs meer mededingend as voorheen te wees.

Coetzee Labuscagne en Johan Gerber sal die strydbyle vir Nissan in die Raysoncis-Nissan Hardbody opneem en ook die broers, Henri en Maurice Zermatten in die Ryobi-Hardbody. Hulle beskik oor heelwat ervaring en die Toyota/Nissan-konfrontasie kan in een van die hoogtepunte van die jaar ontwikkel.

Klas E is ‘n mengelmoes van bekende gesigte wat met onbekende faktore vermeng is. Die Ford Racing-paar, Jack Peckham en Lucio Santoro, sal weer die stryd met Jannie Visser en Joks le Roux in die Barberspan-Toyota Hilux aansê. Thomas Rundle en Brian Roberts in die Barden Tyres Services-Nissan Hardbody asook Deon Venter en Ian Palmer in die 4x4 Mega World-Toyota Hilux kan die lewe vir hulle moeilik maak.

Ford en die res van die Toyota Hilux-spanne, Johan Fouche/Wentzel Pretorius en Wynand van der Linde/Sefie van Schalkwyk is onbekende faktore.

Die eerste sarsie van die seisoen stel gewoonlik die strydlyne vir die res van die seisoen se skermutselings vas. Al die aanduidings dui daarop dat dit ‘n goeie jaar gaan wees.

 4 images
192082
192082
191894
191894
191172
191172
191149
191149
 



Tags | 2008 Nissan Dealer 400 | Cross Country Commission (Media) | Motorsport |