document : Taai stryd vir Spesiale Voertuigkampioenskap tydens Toyota 1000-woestynren


Taai stryd vir Spesiale Voertuigkampioenskap tydens Toyota 1000-woestynren
information supplied by: Cross Country Commission (Media) 01 June 2008

‘n Naelbytstryd word vanjaar in die Spesiale Voertuigkategorie van die Toyota Kalahari Botswana 1000-Woestynren, die vierde ronde en die halfpadmerk van die Absa-Veldrenkampioenskap wat van 13 tot 15 Junie in Botswana plaasvind, voorspel.

‘n Kombinasie van strawwe kampioenskapsposisies en verskillende style verseker dat dit in ‘n ren vol intriges kan uitdraai. Boonop is die Woestynren daarvoor bekend dat daar ‘n kinkel in die kabel kan wees.

In die algehele en Klas A-kampioenskappe skei net vier punte laas jaar se wenners, Karl-Heinz en Quintin Sullwald (Sullwald Racing-Zarco), en die voormalige Suid-Afrikaanse kampioen, Terence Marsh en Pieter Groenewald in die Regent Racing-BAT. Beide spanne pak hul renne met presiese berekening aan en die Woestynren sal hul pas.

Hermann Sullwald en Paul Helberg in ‘n tweede Sullwald Racing-Zarco, sal ook ‘n kans staan en so ook die 2006-wenners, Nick en Ryan Harper (Atlas Copco-BAT) en Mike Whitehouse – die navigator wat nou ‘n renjaer is – en Mathew Carlson in die tweede Regent Racing-BAT. Niemand wen die Toyota Kalahari Botswana 1000-Woestynren tydens die eerste dag nie, maar daar is sommige aanvallers in die veld wat die ren van fassinerende kontraste kan voorsien.

Voor aan die aanvalbrigade is spanne soos die huidige kampioene, Evan Hutchison en Achim Bergmann (Motorite-BAT) en die Nissan-Sugarbelt 400-wenners, Gary Bertholdt en André Vermeulen in die Atlas Copco-Porter. Beide spanne het tydens die Sugarblet weer lewe in hul kampioenskapaanslae geblaas en sal hoop om die renaissance ‘n stappie verder te vat.

Brandon Harcus, wat deur die agtmalige Woestynrenwenner, Richard Leeke, in die tweede Motorite-inskrywing bygestaan word, is ook ‘n aanvaller en Shameer Variawa/Siegfried Rousseau (Total-Porter) kort ook ‘n sege. Die veterane, Nardus Alberts/Collin Hunter (Wrapsa-BAT) het tydens die Nissan-Sugarbelt 400 weer so goed soos voorheen presteer terwyl Pieter Ruthven en De Waal Boshoff ook ‘n bestendige vertoning in die Ruwacon-BAT sal najaag.

Die voormalige wenner, Mark Corbett en Rudy Balzer (Century Property Developments-CR1) sal graag die einde wil haal en Colin Mathews/Alan Smith (BAT) en Clint Gibson/Gary Campbell (Gibson Plant Hire-BAT) is ook buiteperde. Rob Wark, een van die drie jaers wat die byeenkoms al met ‘n enkelsitplekvoertuig gewen het, sal saam met sy seun, Gareth, in die Superpave-BAT ‘n goeie resultaat wil aanteken.

Die verhoog is ook opgestel vir ‘n goeie ren in Klas B waar ‘n strawwe kampioenskapstryd ‘n interessante bydrae tot die verrigtinge kan maak. Louw de Bruin, wat weer kragte saam met Rudi Britz in die Ruwacon-BAT saamspan, is voor in die jaerskampioenskap.

Die jonger spanne sal egter hul man teen gesoute deelnemers moet staan. Die Woestynren is die soort byeenkoms wat veterane soos Giel Nel, wat deur Deon de Kock in die LUK Africa-Truggy/Zarco bygestaan word, soos ‘n handskoen pas.

Bez Bezuidenhout en Johann de Bruyn (Adenco-BAT) beskik ook oor heelwat ondervinding en sal weet hoe om die pas vol te hou. Jan Kraaij en Tiddo Voogt (Keymax-BAT) het tydens die Nissan-Sugarbelt 400 weer goed vertoon terwyl Simon Beckett/Steve Harris (Century Property Developments-BAT) ook ‘n goeie resultaat in KZN aangeteken het.

Die skaal in Klas P, wat Klas S vervang het, het heeltemal omgeswaai. Die huidige Klas S-kampioene, Richard Schilling en Chris Davies (Aceco-RS) kon nog nie die seisoen ‘n ren voltooi nie en Nic Goslar en Richard Carolin (Men’s Health International-Raceco) het ook nie veel beter gevaar nie.

Die KZN-span, Don Thompson en Don Blakey (Zarco) het uit die bloute ‘n oorwinning en ‘n tweede plek aangeteken wat aan hulle ‘n gerieflike voorsprong in die kampioenskap gee. Die broers, David en Gary White (Ruwacon-BAT) en Johan en Etienne Bezuidenhout (Adenco-BAT) het ook al dié seisoen gewen en sal vol moed wees.

Maar ondervinding kan nie gekoop word nie en op dié basis kan spanne soos Schilling/Davies en Goslar/Carolin terugbons nadat hul seisoen teleurstellend begin het.

 8 images
210331
210331
210276
210276
210264
210264
210249
210249
210227
210227
210186
210186
210180
210180
210169
210169



Tags | 2008 TOYOTA 1000 Desert Race - Gaborone | Cross Country Commission (Media) | Motorsport |