document : Eerste Spesiale Voertuigsege vir Kampioene Tydens Toyota-handelaars 400


Eerste Spesiale Voertuigsege vir Kampioene Tydens Toyota-handelaars 400
information supplied by: Cross Country Commission (Media) 13 October 2008

Toyota-handelaars 400 – Ronde 7
Absa-Veldrenkampioenskap
10 & 11 Oktober


Lydenburg – Die huidige Suid-Afrikaanse kampioene, Evan Hutchison en Achim Bergmann het hul eerste oorwinning van die seisoen aangeteken toe hulle die Spesiale Voertuigkategorie tydens die Toyota-handelaars 400 gewen het.

Hutchison en Bergmann in die Motorite-BAT het ‘n einde gemaak aan ‘n teleurstellende hoeveelheid renne wat hulle nie kon voltooi nie om ‘n oorwinning aan te teken wat ‘n mate van trots vir die span herstel het. Dié paar is nie gevaar wat die kampioenskappe betref nie en dit lyk of die algehele en Klas A-titelstryd eers tydens die laaste ren van die seisoen in November afgehandel gaan word.

Die voormalige Suid-Afrikaanse kampioen, Karl-Heinz Sullwald, en sy seun, Quintin in die Sullwald Racing-BAT, was tweede algeheel en in Klas A met die KwaZulu-Natal-paar, Don Thomson en Gary Campbell wat ná ‘n uitmuntende vertoning derde algeheel geëindig het en Klas P gewen het. Mike Whitehouse/Mathew Carlson was vierde met die top vyf wat deur Hendrik Kraaij en Tiddo Voogt in die Keymax-BAT afgerond is.

Aan die begin van die byeenkoms, die voorlaaste ronde van die kampioenskap, het vier spanne ‘n kans gestaan om die titels op te raap. ‘n Tweede plek vir die Sullwalds het hul titelhoop goed gedoen, maar dieselfde kan nie van die voormalige kampioene, Shameer Variawa en Siegfried Rousseau asook van Gary Bertholdt en André Vermeulen in die Atlas Copco-Porter gesê word nie.

Variawa en Rousseau (Total-Porter) en Terence Marsh en Pieter Groenewald (Regent Racing-BAT) het probleme tydens Vrydag se voorren, wat die wegspringvolgorde vir die hoofren bepaal het, opgedoen. Beide spanne moes die ren vanuit die agterste gestoeltes takel met nóg meer probleme wat vir Variawa en Rousseau gewag het.

Die Total-span kon nie die ren voltooi nie terwyl Marsh en Groenewald hul pad tot die negende posisie algeheel en vyfde in die klas kon oopveg. Marsh en Groenewald was ook tussen die laaste spanne wat die ren aangepak het en hulle moes skadebeheer tydens die ren doen.

Bertholdt en Vermeulen was teen die einde van die eerste van die twee sirkelroetes waaruit die ren bestaan het, voor. Die Porter het egter veringstelselskade opgedoen en ten spyte van vinnige herstelwerk, het hulle voor die aanvang van die laaste been onttrek.

Die Kraaij/Voogt-resultaat in Klas B het aan Voogt, wat dié seisoen al langs Hendrik en sy pa, Jan, gesit het, ‘n stewige houvas op die navigatorskampioenskap gegee. Tweede was die Vrystaat-span, Louw de Bruin en Rudi Britz in die Ruwacon-BAT, wat ses minute verder agter was.

De Bruin is voor in die jaerskampioenskap, maar Britz het ‘n byeenkoms vroeër die seisoen gemis wat hom in die navigatorstryd laat terugval het. Derde in die klas, was die veterane, Giel Nel en Deon de Kock in die Luk Afrika Zarco-Truggy, wat ook nog ‘n kans op die kampioenskap staan.

Thomson se sege in Klas P sit hom terug in die prentjie vir die jaerskampioenskap. Die broers, Johan en Etienne Bezuidenhout in die Adenco-BAT, wat 11 minute agter die KZN-span was, is ook nog in die prentjie.

Nóg ‘n stel broers, David en Gary White (Ruwacon-BAT), moes ook skadebeheer doen. ‘n Elektriese probleem het hulle tydens die voorren gekniehalter en hulle het derde in die klas geëindig nadat hulle ook agter in die veld moes wegspring.

 6 images
226556
226556
226531
226531
226496
226496
226491
226491
226216
226216
226134
226134



Tags | 2008 Toyota Dealer 400 - Mpumalanga | Cross Country Commission (Media) | Motorsport |