document : Wenner vat alles by finale ronde van Absa-Veldrenkampioenskap


Wenner vat alles by finale ronde van Absa-Veldrenkampioenskap
information supplied by: Cross Country Commission (Media) 15 November 2008

‘n Draaiboekskrywer kon nie verbeter het op die dramatiese einde van die Produksievoertuigkampioenskap in vanjaar se Absa-Veldrenkampioenskap nie.

Dit kom neer op ‘n situasie van die wenner wat met alles in beide die algehele en die premier Klas SP-kampioenskappe tydens die RFS Magalies 400, die laaste byeenkoms van die seisoen wat op 21 en 22 November plaasvind, sal wegstap. Net vier punte skei drie jaers en drie punte is die verskil tussen die twee navigators in die algehele kampioenskap.

Die Ford Racing Ranger-paar van Neil Woolridge en Kenny Skjöldhammer sal na die RFS Magalies 400-byeenkoms, wat by Tarlton gebaseer sal wees, gaan met ‘n drie punte voorsprong bo die Sasol-Nissan Navara-span van Hannes Grobler en Juan Möhr. ‘n Enkele punt agter Grobler in die jaerskampioenskap is die huidige kampioen, Duncan Vos, wat met Ralph Pitchford in nóg ‘n fabrieks-Sasol-Nissan Navara.

In die navigatorskampioenskap heers daar ‘n gelykopstryd tussen Skjöldhammer en Möhr. Oorsese verpligting het veroorsaak dat Pitchford ‘n paar byeenkomste gemis het en dit het hom uit die titelstryd gesit.

En net om tot die drama by te dra, beskik beide Woolridge/Skjöldhammer en Vos oor ‘n 100 persent-klaarmaakrekord tot dusver dié seisoen. Dit beteken dat hulle elk van ‘n resultaat ontslae moet raak en dit vertroebel die water effe.

Woolridge en Skjöldhammer het nog nie ‘n resultaat buite die top drie die hele seisoen aangeteken nie en indien hulle ‘n oorwinning tydens die RFS Magalies 400 kan aanteken, sal dit ideaal wees om die ys te breek. Met drie agtereenvolgende oorwinnings is Grobler en Möhr die span wat geklop moet word en ‘n vierde oorwinning kan tot die Grobler-legende bydra.

Vir Vos was die laaste helfte van die seisoen frustrerend. Soos Grobler het hy ook drie oorwinnings aangeteken en is hy desperaat vir ‘n vierde sege.

Daar is min te kies tussen die drie spanne in terme van spoed en ondervinding en ‘n ren vol intriges is op die kaarte. Die taktiek sal onvoorspelbaar wees en die feit dat die Magalies ‘n nuwe ren op die kalender is en die roete onbekende terrein betree, sal die speelveld vir almal gelyk maak.

Die spanne wat in die kampioenskapstryd betrokke is, sal presies weet wat hulle te doen staan. Maar hulle sal ook bewus wees van die rol wat die ander spanne kan speel in die rendrama kan speel.
Die Castrol-Toyota Hilux-fabriekspanne, Mark Cronje/Chris Birkin en Anthony Taylor/Robin Houghton sal veral gevaarlik wees. Beide spanne is moontlike wenners met Cronje en Birkin wat die enigste nie-Nissan-span was wat vanjaar ‘n oorwinning kon aanteken.

Chris Visser/Japie Badenhorst in die privaat-Castrol-Toyota Hilux en Hugo en Jaap de Bruyn in die Micaren Exel-Toyota Hilux, het goeie vertonings gedurende die seisoen aangeteken en kan ‘n opskudding veroorsaak. Mike Thomsett, wat van ‘n besering herstel het, en Brian Haviland in die Imperial Feltex-Toyota Hilux, kan ook tussen die voorlopers eindig en die kaarte deurmekaar krap.

Die voorste Nissan-spanne sal na die Noorweër, Ivan Tollefsen en Quin Evans kyk vir soliede ondersteuning. Ford se ondersteuning sal van die bestendige Kobus van Tonder en sy plaasvervanger-navigator, Louis Weichelt in die Unifreight-Ford Ranger kom met die fabriekspaar, Mark Ferguson en Craig West wat die byeenkoms sal mis as gevolg van ‘n besering wat Ferguson tydens die Toyota-handelaars 400 opgedoen het.

Klas SP sal deur die debuutverskyning van Graham Leith en Mike Larenson versterk word. Dié paar sal met die voormalige Motorite-Ford Ranger deelneem wat nou onder die Transcor-vlag ingeskryf word.

Op ‘n meer sentimentele noot sal Chris du Plooy en Ewald van Rensburg vir ‘n goeie lopie in die nuwe RFS-Toyota Hilux mik. Toyota se kragtige hand word deur George en Sharon Barkhuizen (Ruwacon-Toyota Hilux) en Jaco Swanepoel/Keith Solomon (IDM Cement-Toyota Hilux) afgerond en beide spanne sal die seisoen op ‘n hoë noot wil afsluit.

Terwyl die algehele en Klas SP-titelgevegte naby aan mekaar is, sal die Zermatten-broers, Henri en Maurice in die Ryobi-Nissan Hardbody eenvoudig die finale afronding aan die Klas D-kampioenskapstitel voeg. ‘n Sterk tweede helfte van die seisoen het beteken dat die Zermattens van Coetzee Labuscagne en Johan Gerber in die Raysonics-Nissan Hardbody weggetrek het.

Nadat hul jaar teleurstellend begin het, het Ramon en Maret Bezuidenhout in die Team Barberspan-Toyota Hilux ‘n string goeie resultate ingepalm. Die vertrekkende jaerskampioen, Cliff Weichelt, het ‘n teleurstellende seisoen in die N1 4x4-Toyota Hilux D4D beleef en Christiaan du Plooy en Henk Jansen van Vuuren (RFS-Toyota Hilux) sal vir ‘n goeie resultaat duim vashou nadat die tweede helfte van hul seisoen effens uitgerafel het.

Die Klas E-titel is so te sê opgeraap met die ervare Jannie Visser en Joks le Roux in die Team Barberspan-Toyota Hilux wat reg deur die seisoen in beheer was. Dewald van Breda in die Potch Plastics-Toyota Hilux is beslis die beginner van die jaar en sal saam met Johann du Toit poog om hul tweede plek in die kampioenskap te verseker.

Die huidige jaerskampioen, Jack Peckham en Lucio Santoro in die fabrieks-Ford Racing Ranger, het nie die beste seisoen beleef nie en sal nie aan die RFS Magalies 400 deelneem nie.

Deon Venter en Ian Palmer (4x4 Megaworld-Toyota Hilux) het ‘n oorwinning dié seisoen agter hul name en sal vir nóg ‘n sege mik. Thomas Rundle en Rob Howie in die Barden Tyre Services-Nissan Hardbody sal ook hoop om die seisoen op ‘n hoë noot af te sluit en sal poog om die Toyota-inskrywings te kniehalter.

Die RFS Magalies 400 sal by die Tarlton-internasionale renbaan naby Krugersdorp gebaseer wees. Die voorren wat die wegspringvolgorde vir die hoofren bepaal, sal Vrydag, 21 November om 11:00 begin.

Die hoofren sal Saterdag, 22 November om 08h30 afskop met die begin en die einde asook die aangewese dienspunt wat by die Tarlton-internasionale renbaan sal wees.

 8 images
226367
226367
226331
226331
226323
226323
226307
226307
226287
226287
226273
226273
226264
226264
226251
226251



Tags | 2008 RFS Magalies 400 | Cross Country Commission (Media) | Motorsport |