document : Toyota se geharde Land Cruiser 70 Station Wagon


Toyota se geharde Land Cruiser 70 Station Wagon
information supplied by: Toyota South Africa Product 25 September 2008

Toyota is die leier in die Suid-Afrikaanse 4x4-mark en bied die grootste reeks vierwielaangedrewe voertuie vir ‘n wye verskeidenheid toepassings aan.

Die Toyota-Motorkorporasie is ten volle bewus van die uiteenlopende klantvereistes in die 4x4-mark en maak voorsiening daarvoor met voertuie wat in twee hoofgroepe verdeel is: dié wat geskik is vir die vierwielaangedrewe handelsgebruiker en die ernstige veldry-entoesias, en ‘n tweede groep voertuie wat ontwerp is om te voldoen aan die behoeftes van die lewenstyl-4x4-entoesias vir wie ‘n sportnutsvoertuig met ‘n hoë spesifikasie die eerste keuse is. Toyota se reeks stasiewa-tipe voertuie word aangevul deur die Hilux-enkel- en dubbelkajuitmodelle en die Land Cruiser-bakkie.

Vir die lewenstylentoesias het Toyota drie afsonderlike modelle in die vorm van die kompakte RAV4, die middelslag-Prado en die groot Land Cruiser 200. Hierdie voertuie spog met al die styl en luukse wat die kundige, oordeelkundige koper wil hê en bied terselfdertyd dubbeldoel-funksionaliteit vir gebruik op en van die pad af. Die Toyota Fortuner, wat gegrond is op die Hilux (IVV)-platform, bied ‘n verdere keuse binne Toyota se vierwielaangedrewe lewenstylstasiewareeks.

Die Land Cruiser 70 Station Wagon is ‘n 4x4-nutsbus wat Toyota in die geleentheid stel om ‘n 4x4-voertuig aan te bied vir elke behoefte en vereiste op die Suid-Afrikaanse mark. Hierdie 70 Station Wagon is gegrond op die legendariese, onvernietigbare onderstel van die Land Cruiser-bakkie en is heeltemal tuis in ‘n rol waar dit die grootste deel van sy werklewe in veldry-situasies deurbring.

Die stasiewa het dieselfde meganiese spesifikasie en duursame leertipe onderstel as die Land Cruiser-bakkie, maar het ‘n half-lang asafstand, wat beteken dat dit in geheel 335 mm korter as die bakkie is. Die asafstand is 450 mm korter as dié van die bakkie, maar die wielnisskerms maak dit 100 mm breër.

Die voor- en die agterewenaar het ewenaarslotte met elektroniese seleksie van óf die agterste ewenaarslot óf die voor- en die agterslot. Die veerstelsel is die bewese kombinasie van starre asse voor en agter met krulvere voor en bladvere agter, soos in die Land Cruiser 70-bakkie ingespan word. Anders is in die bakkie, wat spog met ‘n swaardiensveeraanslag, is vir die Station Wagon se krul- en bladvere ‘n veeraanslag vir rygehalte eerder as suiwer vragdravermoë gekies. Die remme is geventileerde skywe voor en tromme agter met ‘n lasaanvoel-ewewigsklep.

Die krulveerstelsel voor is ontwerp vir ‘n lang slag. Agter word bladvere gebruik. Die twee stelsels werk saam en gee uitstaande rit-, hantering- en stabiliteitseienskappe met uitstekende wielartikulasie en veerstelselsoepelheid.

Aandrywing is deur ‘n vyfspoedhandratkas en ‘n tweespoedoordraratkas bied die opsie van laagstrek-4x4 in moeilike veldrytoestande. Soos in die geval van die bakkie is die Station Wagon toegerus met outomatiese sluitnawe voor sodat die bestuurder in die ry na vierwieldryf kan oorskakel. Allooiwiele (16 duim) beslaan met 265/70R 16 LT-bande is standaard.

Die Land Cruiser 70 Station Wagon het vier deure en ‘n agterdeur wat vertikaal in twee verdeel is. Daar is sitplek vir vyf mense – twee skottelsitplekke voor en ‘n banksitplek agter vir drie insittendes. Die sitplekke is met materiaal oorgetrek en die vloermat is van viniel. Vir maklike in- en uitklim is daar aluminiumkanttreetjies.

Die Land Cruiser 70 Station Wagon is net verkrygbaar met dieselkrag. Die sessilinderenjin van 4,2 liter-enjin (1HZ) ontwikkel 96 kW @ 3 800 r/min en 285 Nm se wringkrag, wat reeds by 2 200 r/min beskikbaar is.

Die Station Wagon is toegerus met ‘n sikloniese lugfilter met voorfiltrering en ‘n 12 volt-stelsel word gebruik. Die Toyota het elke 10 000 km ‘n diens nodig, maar die olie moet ook elke 5 000 km vervang word.

Vir die avontuurlike gesinsman wat gereeld die veld en bos aandurf, bied die Land Cruiser 70 Stasiewa ‘n geharde en duursame voertuig waarmee die strafste terrein in Afrika in veiligheid en gerief aangepak kan word. Vir die handelsgebruiker bied hierdie stasiewa uitstekende funksionaliteit en klipharde betroubaarheid en gehardheid saam met die legendariese Land Cruiser-reputasie vir onvernietigbaarheid en betroubaarheid.


Belangrike spesifikasies:

• Enjin: onaangejaagde dieselenjin van 4,2 liter; sessilinder-gelid met bonokasuitleg; maksimum-krag 96 kW @ 3 800 r/min, 285 Nm @ 2 200 r/min
• Vyfspoedhandratkas met tweespoed-oordraratkas
• Ewenaarslot vir voor- en agterewenaar
• Krulveervoorvering, bladveeragtervering
• Vierdeur-, vyfsitplekuitleg
• Sentrale sluiting
• Elektriese ruitverstelling
• Kragstuur
• Lugreëling
• RDS-radio/CD-kombinasie
• Immobiliseer/alarmstelsel
• Voorste misligte
• Agterruitwasser/veër en -ontwasemer
• Agterste konsolekissie met verwarmer vir agterste deel van die kajuit
• Materiaalsitplekke
• Vinielvloermat
• Noodwielrak aan agterdeur
• Kanttreetjies en agtertreetjie van aluminium
• 265/70R 16 LT-bande aan 7JJ-allooiwiele
• 90 liter-brandstoftenk
• 12 volt-kragprop

Afmetings:

• Grondvryhoogte: 230 mm
• Algehele lengte: 4760 mm
• Algehele breedte: 1870 mm
• Algehele hoogte: 1930 mm
• Asafstand: 2730 mm
• Oorhang voor: 710 mm
• Oorhang agter: 1320 mm
• Naderhoek: 38 grade
• Vertrekhoek: 25 grade

ends

 4 images
225002
225002
224995
224995
224992
224992
224990
224990
 



Tags | 2007 Toyota Land Cruiser 70 Pick Up | Industry News | Toyota South Africa Product |