document : Toyota Spring 2007-veldrenseisoen Op Positiewe Noot Weg


Toyota Spring 2007-veldrenseisoen Op Positiewe Noot Weg
information supplied by: Toyota South Africa Product 02 May 2007

‘n Klasoorwinning en ander bemoedigende resultate op verlede naweek se Nissan-Handelaars 400-veldren in Wes-Kaapland, eerste ronde van vanjaar se Absa-Veldrenkampioenskap, het die Castrol Toyota- en private Toyota-spanne op ‘n positiewe noot laat wegspring.

Die klasoorwinning is behaal deur Jannie Visser en Joks le Roux in ‘n Toyota Hilux. Hulle het Klas E gebuit met ‘n uitstekende vertoning -- en hulle was ook negende algeheel in die Produksievoertuigafdeling. Visser, broer van die heersende Klas D-kampioen, Chris Visser, was nog altyd bekend vir sy bestendigheid en hy en Le Roux het besonder goed gevaar op ‘n strawwe veldren wat ‘n hoë tol geëis het.

Mark Cronjé en Chris Birkin in die fabrieksingeskrewe Castrol Toyota Hilux 4.0 het die 2007-seisoen op ‘n bemoedigende noot begin met ‘n twee plek algeheel en ook tweede in die Super-Produksieklas.

”Ons het vroeg in die eerste lus in ‘n grensdraad vasgery en die drade het in die onderstel verstrengel geraak,” het Cronjé agterna gesê. “Dit het ‘n remknyper beskadig en ons ook ‘n pap wiel gegee, maar vir die res het ons geen probleme gehad nie.

“Die Hilux is eenhonderd persent reg en ‘n uitslag soos dié op die eerste veldren van die jaar is ‘n hupstoot vir ons en die span.”

Bevan Bertholdt en Robin Houghton in die tweede fabrieksingeskrewe Castrol Toyota Hilux 4.0 in die Super-Produksieklas was nie so gelukkig nie. Die twee Toyota-veldrenners, wat die Ford Carnival City 400 aan die einde van verlede jaar gewen het, het in ‘n waterpoel gaan staan. Hulle moes uitgesleep word, maar in die proses is ‘n klomp draad in die onderstel vasgevang en hulle moes die aftog blaas.

“Ons was ‘n bietjie versigtig in ons benadering van die waterpoel en het die prys betaal,” het Bertholdt gesê. “Ons kon daarin slaag om die meeste van die drade af te sny, maar dit het ‘n rempyp deurgesny en toe was dit Ikabod vir ons.

“Die voertuig is op en wakker en ons het ons reggemaak vir ‘n goeie uitslag. Om uit te val, was ‘n groot teleurstelling.”

Chris Visser en Japie Badenhorst, die heersende Klas D-kampioene, is ook in hul skik met hul vertoning. Hulle was sesde algeheel in die Super-Produksieklas. Die twee van hulle wag nog om hul nuwe Klas SP-voertuig in ontvangs te neem en het deelgeneem in die Klas D-Tyco Trucks Hilux waarmee hulle verlede jaar die titel gewen het.

“Dit was ‘n strawwe byeenkoms, maar ons het nie ernstige probleme gehad nie,” was Visser se kommentaar. “Ons het Klas SP-punte ingesamel en is in ons skik daarmee. Ons sien natuurlik baie daarna uit om in ons nuwe Hilux mee te ding.”

In Klas D was pa en seun Cliff en Louis Weichelt, in ‘n nuwe Bosal Toyota Hilux 3.0 D4D, die enigste Toyota-inskrywing. Hulle het self goed gevaar en ‘n derde plek in die klas behaal. Hulle het verskeie irriterende klein “tandekry”-probleme ondervind en was heel gelukkig om punte in te samel.

Dieselfde geld vir Brian Martin en Ockie Fourie in die Castrol Toyota Hilux in Klas E. Die twee het die wegspring net-net gemaak en het daarna ook maar probleme gehad.

“Ons het die kragstuur net 10 kilometer van die wegspring af verloor en daarna het ons harde bene gehou,” het Martin gesê. “Ons was maar te dankbaar om die eindpunt te haal en ons derde plek was waarlik ‘n bonus!

“Afgesien van die kragstuur was daar nie ander probleme nie en die Hilux he beslis baie potensiaal, dus het ons baie om na uit te sien vir die res van die seisoen.”

Vir drie ander Toyota-spanne in Klas E was daar net teleurstelling. George en Sharon Barkhuizen (Ruwacon Toyota Hilux) moes die stryd gewonne gee met koppelaarprobleme, terwyl ‘n foutiewe enjinsensor veroorsaak het dat Stuart Moffatt en Johan Coetzee (Bosal Toyota Hilux) die handdoek moes ingooi.

Die mees bisarre voorval van die naweek het egter vir Hein Moolman en Cecil Fincham (Roost Racing Toyota Hilux) oorgekom. Na Vrydag se voorren het hulle die bakkie buite die hotel geparkeer -- waar dit, én die diensvoertuig, beskadig is toe ‘n plaaslike motoris daarteen vasry!

ends

toyota nissan 400 AF
Maart 2007



Tags | Toyota South Africa Product | Motorsport |