document : TOYOTA KOOP AANDEEL IN ISUZU MOTORS


TOYOTA KOOP AANDEEL IN ISUZU MOTORS
information supplied by: Toyota South Africa Product 15 November 2006

Die Toyota-Motorkorporasie (TMC) het ’n aandeel van 5,9% in Isuzu Motors Beperk gekoop. TMC het dié aandele by die Mitsubishi-korporasie en die Itochu-korporasie vir R2,6 miljard gekoop. Mitsubishi het nog ’n 9,7%-aandeel in Isuzu, en Itochu 7,2%.

TMC se transaksie is aan ’n sake-samewerkingsooreenkoms tussen die twee maatskappye gekoppel. Toyota en Isuzu sal hul bestuurshulpbronne op die gebied van navorsing, ontwikkeling en produksie van weerskante af inspan, terwyl die twee maatskappye ook mekaar se tegnologiese ontwikkeling sal aanvul.

Die grootste fokusgebiede is die navorsing, ontwikkeling en produksie van klein dieselenjins, gesamentlike navorsing en ontwikkeling van uitlaatbeheer-tegnologie met die klem op dieselenjins, en omgewingstegnologie waaronder basiese enjin- en ander tegnologiese ontwikkelings wat met alternatiewe brandstof verband hou.

Isuzu sal die hoofrol in die eerste twee fokusgebiede vertolk, terwyl die TMC die leiding op die gebied van omgewingstegnologie sal neem. Laasgenoemde tegnologie sluit in hibride-, brandstofsel- en elektriese voertuie, terwyl alternatiewe brandstoftegnologie etanol, metanol en saamgepersde aardgas behels.

Toyota en Isuzu het reeds bestaande bande, waaronder die verskaffing van vragmotor-transmissiestelsels deur Isuzu en ’n bus-samewerkingsooreenkoms tussen Isuzu en die Toyota-filiaal Hino Motor.

Katsuaki Watanabe, president van die TMC, het by ’n perskonferensie waar die nuwe ooreenkoms aangekondig is, gesê die nuwe band tussen Isuzu en Toyota sal lei tot beter gehalte, hoër verrigting en beter produkte teen ’n laer prys.

einde



Tags | Toyota South Africa Product | Industry News |