document : Taai Veldrenkampioenskapstryd by Vredefort 400 Voortgesit


Taai Veldrenkampioenskapstryd by Vredefort 400 Voortgesit
information supplied by: ET.Komm 22 August 2011

Met die 2011-nasionale veldrenkampioenskapseisoen wat einde se kant toe staan, sal die Vredefort 400, die vyfde ronde van die seisoen wat op 26 en 27 Augustus in die Vrystaat plaasvind, motorfiets- en vierwielmotorfietsdeelnemers nóg ‘n kans bied om waardevolle punte in te samel terwyl hulle aan ‘n splinternuwe ren op vanjaar se kalender deelneem.
Die stand in verskeie klasse sowel as die algehele puntestand in die motorfietsafdeling het ná die laaste byeenkoms verander met die verdedigende titelhouer, Jade Gutzeit (Proudly Bidvest-Yamaha) wat die voortou by sy spanmaat, Louwrens Mahoney, oorgeneem het wat meganiese probleme ondervind het.
Mahoney het tot die tweede plek algeheel teruggeval en is ook tweede (hy deel dié posisie met Kargo Racing se Mark Garland op die Husaberg) agter die nuwe OR2 (250cc)-klasleier, Riaan van Niekerk (Brother Broadlink-KTM) wat tot die derde plek algeheel opgeskuif het waar hy nou ses punte voor Juan “Bollie” van Rooyen (Off Road Racing Concepts-Kawasaki) is.
Marc Torlage (Mr Price-Yamaha) lei die OR3 (200cc)-klas en is vyfde algeheel, sewe punte voor Gray Dick (Brother Broadlink-KTM). Alhoewel net Gutzeit en Mahoney vanjaar algeheel gewen het, was Van Niekerk, Van Rooyen en Dick almal reeds op die podium en kan hulle vir ‘n verrassing by Vredefort sorg.
Op vier wiele is Philipie Baard (PS Storm Racing-Honda) steeds die algehele voorloper sedert hy die openingsronde gewen het. Hy het dit met nóg ‘n sege en twee tweede plekke opgevolg, maar nadat Brian Baragwanath (Proudly Bidvest-Yamaha) die laaste twee renne gewen het, het hy tot die tweede plek opgeskuif waar hy nou 15 punte agter Baard is. Baard kan nie bekostig om ‘n wiel verkeerd te sit as hy in sy broer, Dirkie, se voetspore wil volg om as Namibiër ‘n Suid-Afrikaanse titel te wen nie.
Die veteraan, Jacques Struwig, (Boesman Racing-Suzuki) het die podium reeds drie keer besoek, maar kon nie die BELL 400 voltooi nie en het tot die derde plek algeheel teruggeval.
Agter hulle skei net vyf punte die vierdegeplaasde Hannes Saaijman (EMD Racing BB Auto-Suzuki) van Vincent Loubser (Yamaha Support) in die sewende posisie. Saiaijman is drie punte voor Cornel Kannemeyer (Water Rite Racing-Suzuki) met David Hollis (Micks Motorcycles-Yamaha), wat derde na die laaste ren klaargemaak het, ‘n enkele punte agter Kannemeyer en een punt voor Loubser. Chris van der Westhuizen (Honda) lei steeds die Q2 (Oop)-klas.
Die tweestryd in die Senior-motorfietsklas tussen Guy Henley (Off Road Racing Concepts-Kawasaki) en Wayne Farmer (LCP Racing-Gas Gas), wat dieselfde hoeveelheid punte het, sal voortduur. Op vier wiele lei Sarel van Biljon (CDV Racing-Can-Am) dié klas maar die damesjaer, Amanda Eardley (Echo 4x4 Powersport-Can-Am) het by die BELL 400 gewen en kan wéér ‘n vlieg in die salf wees.
Jurie Meyer (Yamaha Support) het skoonskip in die Meester-vierwielklas gemaak en lei Kobus Visser (Echo 4x4 Powersport Can-Am), wat voor is in die Q3 Veeldoelklas. Neil Gailey (Naledi Motors Wesbank Racing- Yamaha) het ‘n gerieflike voorsprong in dié klas op twee wiele waar hy 29 punte voor Greg Blackwell (Kargo Racing KTM) is.
Darren Mcleod (Full Throttle Racing) lei steeds die Silwer-motorfietsklas terwyl Henk Seevinck (Quad Revolution-Suzuki) voor is in die vierwielafdeling. Melissa van Rensburg (Synergy Interiors Racing-Yamaha) is die voorste Dames-vierwielryer.
Die Vredefort 400 begin Vrydag, 26 Augustus, met ‘n kort voorren wat die wegspringvolgorde vir Saterdag (27 August) bepaal. Die ren begin en eindig by die Doornpoort-plase in die Vredefort-area terwyl die sentrale dienspunt ook hier geleë sal wees.

Einde

Foto's aangeheg:
Mark Garland
Cornel Kannemeyer
Attachments
Taai Veldrenkampioenskapstryd by Vredefort 400 Voortgesit.doc (31kB)


 2 images
313350
313350
313349
313349
     



Tags | Other Sports | ET.Komm |